Tuesday, October 26, 2010

'n Storm Broei

Lees my artikel oor die Instituut vir Vrede en Geregtigheid se Versoeningsbarometer by http://www.beeld.com/By/Nuus/n-Storm-broei-20100924

Die Volk se Bank?

Die SMS wat Absa se Hoofbestuurder aan Oregin Hoskins gestuur het haal selfs die redaksionele kommentaar van Die Kerkbode van die NG Kerk. http://www.kerkbode.co.za/Hoofartikel.asp

Hier is my kommentaar:


Die redaksionele artikel in Kerkbode van 15 Oktober 2010, “Absa is die NG Kerk se bank ook” verdien kommentaar omdat dit so sterk herinner aan die “verbintenis” tussen die NG Kerk en die destydse Volkskas (“hierdie ou volksinstelling” soos die redakteur dit stel) tydens die apartheidsbedeling. Kom ek verduidelik.

In 1986 het die sinode van die destydse NG Sendingkerk (vandag die Verenigende Gereformeerde Kerk) op voorstel van die Burgersdorp afgevaardiging Volkskas se traagheid betreur “om op die platteland positief mee te werk aan die aftakeling van apartheid in al sy vorms”. Die kwessie was dat Volkskas, die bank van die NG Sendingkerk, teen lidmate gediskrimineer het deur aparte en minderwaardige ingange vir sogenaamde “anderskleuriges” te hê.

Die Burger berig op 30 September 1986 soos volg: “Ds. Chris Spies van Burgersdorp het gesê hy en sy kerkraad het sedert Mei 1984 deur al die moontlike kanale vertoë tot die bank gerig oor sy skeidingsmaatreëls. Dit het niks opgelewer nie, behalwe 'n onuitgevoerde belofte dat alle skeidings ‘op 'n ordelike manier’ verwyder sal word. Volkskas het deurentyd ontken dat enige diskriminasie ter sprake is. Ds. Spies het gesê...Volkskas is die Sendingkerk se bank wat oor baie jare 'n gewaardeerde diens lewer. Die bank het egter op Burgersdorp nie aan geregtigheid voorkeur gegee bo die dreigemente van welgestelde inwoners nie." (http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1986/09/30/11/8.html)

Konserwatiewe Afrikaners was woedend. As leraar van die gemeente is ek op ‘n spesiale kerkraadsvergadering van die NG gemeente op die dorp veroordeel vir my “liefdeloosheid”. “Hoekom wag hy nie maar totdat die tyd ryp is nie?” het hulle gevra. Dié veroordeling is op briefies by die deure vir lidmate uitgedeel.

“Hoekom”, vra ons kerkraad toe vir hulle, “kies julle kant vir ‘n bank wat openlik apartheid voorstaan in plaas daarvan om saam met ons, julle broers en susters, te staan teen ongeregtigheid?” Daarop kon hulle ons nie antwoord nie, alhoewel die gesprek ‘n paar jaar later tog vrugte afgewerp het.

‘n Afvaardiging van die Broederbond het my kom sien en gewaarsku dat ek nou “aan die Afrikaner se baba gevat het” en dat hulle my “nooit sou vergewe nie”.

Die bank het my ook bygekom en die koers van my studentelening opgeskuif van 6,5% tot 23% sonder om my daaroor in te lig.

Terug by die hede. Is dit nie interessant nie dat die NG Kerk se amptelike koerant (wat op die voorblad entoesiasties getuig oor die opvlam vir steun van eenheid) weer die indruk skep dat die kerk die beskermer van die volk, en per implikasie witmense se belange, is? Die voorbeeld wat die artikel aanhaal is van “jong wit sportmanne wat alles insit om bo uit te kom en dit is nie goed genoeg vir die land nie” is ook interessant. Wat van swart spelers wat presies dieselfde kan sê maar hulle word ook nie gekies nie?

Hoekom anders sal die Kerkbode saam met Afriforum vir Absa van onetiese optrede beskuldig en die verdagte aanname maak dat per implikasie witmense nou weer bygekom word? (“Eers was dit die politieke strukture wat hulle die deur gewys het, nou wil hulle bank dit ook doen.”) Is Absa nie ook die bank van duisende swart kliënte nie? En is dit waar dat Absa vir wit sportmanne die deur wil wys?

Afriforum se histeriese “boikot Absa” veldtog was ‘n ondeurdagte en “vang-‘n-sondebok” opsie. Dit was nog altyd makliker om die boodskapper te skiet as om te vra hoekom ‘n borg, wat miljoene aan die ontwikkeling van rugby bestee, die rooi fakkel opskiet oor te min swart spelers wat deurkom. Dis nie net Absa wat die kleurkaart speel nie. Dit sou in elk geval nie nodig gewees het as die kleur van die kaarte meer eweredig versprei was nie.

Die Kerkbode sê tereg: “Swart rugbyhelde is nodig”. Enige een wat skole en universiteitsrugby kyk sal erken dat die verteenwoordiging van swart spelers baie beter is as op provinsiale vlak. Absa se vraag oor hoekom daar nie meer swart spelers op provinsiale vlak speel nie is ‘n redelike vraag wat dieper ondersoek vra. Maar in plaas van die regte vrae te vra, maak Afriforum en die Kerkbode sommer groot spronge om “hierdie volksinstelling” van onetiese optrede te beskuldig.

Sien ons weer dat solidariteit met die “Volk” swaarder weeg as die reg om die status quo te bevraagteken?

Absa se moed om die saak lewendig te hou moet verwelkom word. Ons land het wonderlike talent wat oral ontgin moet word, ongeag velkleur. Ons kan nie wag “totdat die tyd eendag ryp is nie”.

Moet asseblief nie toelaat dat die Kerkbode weer die indruk skep dat die kerk kant kies in die styd tussen die volk en die bank nie.